Jy is nie ingeteken nie - Teken in of registreer

Nuus

Dieremishandeling aangespreek

Gepubliseer: Maandag, 2013/03/18

Flicka soos sy gelyk het toe sy gevind is.
'n Hond waarvan die ore gedeeltelik afgesny is, is een van vele wat baat gevind het by Piketberg Animal Welfare (PAW) se onlangse uitreik na Redelinghuys.
Minette Cronje, PAW se voorsitter, het die dorpie op Saterdag 9 Maart besoek om kennis te maak met die inwoners en om opnames te maak van elke hond/kat wat aangehou word.
Volgens Cronje is die troeteldiere oor die algemeen nie in ’n slegte kondisie nie. Elf skriftelike waarskuwings is wel uitgereik veral vir swak toestande waaronder honde aangehou is. Van hulle is vasgemaak met ’n gewone ketting om die nek wat met ’n stuk knoopdraad geheg word.
Advies is ook gegee oor die plasing van hondehokke in die skaduwee met die nodige voorsiening van genoeg water. Drie brandsiek honde is geïdentifiseer vir genadedood waar die eienaars nie mediese behandeling kan bekostig nie.
Pakkies honde- en katpille is ook uitgedeel en Cronje is baie goed ontvang deur die gemeenskap.
Die ergste geval van mishandeling was ’n teefhond waarvan haar ore gedeeltelik afgesny is en oortrek was van bosluise. Die polisie het Cronje hiervan in kennis gestel. Die eienaar het blykbaar die hond weggegee, maar die hond het terug geloop na die eerste eienaar en daar opgedaag sonder die helfte van haar ore.
Cronje het intussen klagtes van dieremishandeling teen beide partye gemaak en ’n verslag van die plaaslike veearts word ook afgewag.
PAW het nie fasiliteite om diere tydelik te skut nie en Cronje het vir Flicka, soos sy nou bekend staan, op 10 Maart gaan haal en aan haar pleegouers besorg op ’n wynplaas buite Piketberg.
Enigeen wat belangstel om ’n bydrae te maak, kan Minette Cronje kontak by 079 249 1535.

Deur: Heléne Meissenheimer
Foto: Verskaf

Kyk na kommentaar Voeg kommentaar by