Jy is nie ingeteken nie - Teken in of registreer

Nuus

Het matriek, wat nou?

Gepubliseer: Donderdag, 2013/01/10

Foto: WWW.CUPWRIT.COM

Jy het matriek geslaag, maar wat nou? Die algemene prognose is nie goed nie.

Volgens die vakbond Solidariteit, sal net 50% van die land se skoolverlaters werk kry. Dié navorsing toon ook dat jong mense met ’n hoër na-skoolse kwalifikasie ’n 80% beter kans staan om werk te kry.

Die meerderheid skoolverlaters aan die Weskus sal weens ’n tekort aan befondsing dalk nooit die geleentheid kry om ’n universiteit of ’n technikon by te woon nie, hoewel ’n kwalifikasie by dié amptelike instellings deesdae nie meer die spreekwoordelike alfa en omega in hoër onderwys is nie.

Geleenthede vir Weskussers met akademiese kwalifikasies op die platteland is baie skaars, maar “met ’n ambag is jy amper verseker van werk”, sê Andy Meyer, kampusbestuurder by Weskus Kollege in Vredenburg.

Meyer beveel jong Weskussers aan om hulle op ’n tegniese gebied te bekwaam as hulle hiér in Saldanhabaai-area ’n sterk nywerheidsgeoriënteerde gebied ’n lonende loopbaan wil volg.

“Word ’n elektrisiën, ’n passer en draaier of ’n ketelmaker en verskeie deure sal oopgaan,” glo Meyer. “Hier is ’n groot vraag na gekwalifiseerde ambagslui en die kollege kan amper nie voorbly om in die groeiende behoefte te voorsien nie.”

Dié kollege bied ook kursusse vir jong mense wat nie matriek het nie. Dié leerlinge kan ’n kursus kies waarin hulle belangstel en ’n “ekwivalent van ’n gewone matriek verkry”.

Verskeie ingenieursfirmas soos Hansing, VaalMac en Westarcor neem gereeld matrikulante in vir indiensopleiding. Hulle bied ook opleiding, internskappe en werkswinkels. Volgens Gideon Dixon, bestuurder van Westarcor Engineering in Saldanha, is daar ’n duidelike skuif van jong mense wat verkies om hul ambag te kry terwyl hulle werk, omdat hulle ervaring opdoen en ’n kans staan om so permanent aangestel te word.

Dié ingenieursfirmas en ander werk nou saam met Weskus Kollege en bied aan studente die geleentheid om praktiese ondervinding op te doen.

Vir navrae oor internskappe en opleiding by Westarcor bel Zanette by 022 714 4560.

Registrasie vind tans ook by Weskus Kollege plaas. Kursusse in boekhou, bestuur, voorskoolse onderwys en entrepreneurskap word ook aangebied. Bel 022 713 3167/18 vir inligting of besoek die kampus vir studentberading of om aansoek te doen vir ’n beurs.

 

Deur: Trish Goosen
Foto: WWW.CUPWRIT.COM

Kyk na kommentaar Voeg kommentaar by